Hi Almal,
'n Kwartsiet is 'n gesteente wat dominant uit sand bestaan wat
"gemetamorfiseer" is. As dit nie gemetamorifeer is nie, sou ons dit
sandsteen genoem het, soos wat baie van die ou gebou in die kaap asook die
Unigebou van gebou is. Tydens metamorfose verander die sand, smelt as te
ware, om kwarts kristalle te vorm en dan noem ons dit 'n kwartsiet. Net soos
'n katoenland wat klitsgras of kakiebos in het, noem ons dit nie 'n
kakiebosland nie, maar dit wat die meeste daarin voorkom en dus, hopelik 'n
katoenland, alhoewel ek wonder as ek na sommige lande kyk. Dus, alhoewel
daar rolstene in die "Ezelsklougesteentes" voorkom is die gesteente dominant
van kwarts en word dit dus 'n kwartsiet genoem. Die gedeelte waar die
kolkgate voorkom is meer rolsteenryk, maar as daar na die hele gebied gekyk
word is die dominante gesteente kwartsiet.
Hier is so 'n stukkie oor geologie:
Daar word 2 primere gesteentes gevind:
1. Stollingsgesteentes: Die gesteentes word in 2 groepe verdeel nl.: As die
gesmelte rots bo die oppervlak uitkom soos in vulkane, noem ons dit lawa
soos by Hawaii en word dit vulkaniese rots genoem. Hier kry mens dan Basalte
of basaltiese lawas waarvan die Drankensberge 'n goeie voorbeeld is. As die
gesmelte rots onder die aardkors stol noem ons dit magma of Plutoniese rots
en hier is die bekendste seker graniet wat a.g.v. verweering op die
oppervlak blootgestel word soos die graniete by Augrabies.
Stollingsgesteentes word verder ingedeel volgens hulle chemie, mineraal
samestelling, kleur, tekstuur, Kristal grootte, ens.
2. Sedimenteregesteentes: Dis meestal stollings gesteentes wat verweer na
sand, modder, slik, ens, wat dan verhard om sandsteen, moddersteen en
sliksteen te vorm. Let op dat dit korrelgrote klassifikasies is. 'n
Konglomeraat, wat uit rolstene bestaan, soos wat ons in 'n rivierbedding
aantref, val ook in die groep, maar Wollie jy moet saamstem dat daar hier en
daar rolsteentjies is, maar dat dit nie 'n konglomeraat is nie.
Die derde gesteente is dan 'n metamorfe gesteente, wat soos ek hierbo gesĂȘ
het, uit een van die boonste 2 bestaan, maar a.g.v. druk en temperatuur
verander word. Metamorfe gesteentes word volgens die graad van metamorfose
(graad van verandering) ingedeel bv. Groen Skis-, Amfiboliet-, Granuliet
fasies, ens. 'n Goeie voorbeeld is die baie donker gesteentes omtrent 10km
uit Upt na Groblershoop wat die Amfiboliete van die Jannelsepan formasie van
die Areachap Groep is.
Vir nou dink ek dis genoeg, maar vir die baie ywerige klipliefhebber is daar
by die Raad van Geowetenskappe in Upt boeke te koop oor die geologie van ons
omgewing. Skakel gerus vir Alexander Aggenbach of Google sommer Geology of
the Northern Cape.
Groete
Deon Rossouw
No comments:
Post a Comment