Hallo lede en vriende van die Boegoeberg Eco Roete, Ons wil graag met julle
'n stukkie interessante inligting deel.
'n Paar van ons het die afgelope tyd weer die plaas Eselkloupan besoek en
glasvesel afdrukke gemaak om die spore met mekaar te vergelyk.
Dit is daarna wit geverf en gefotografeer en die resultate kan u op die
aangehegde foto's sien.
Die vraag wat mos gestel word, "Is Eselkloupan se spore esel spore of spoel
of maalgate"?
Geoloë beweer dat die gesteente waarin die "Spore" gevorm was, gevorm is
voordat daar diere op aarde was. Hulle sê dat dit deur water en verweering
gevorm is.
Ons gaan nie waag om te sê wat dit is of nie is nie, maar ons wil tog sekere
punte in hierdie debat stel.
Kom ons neem die wiskundige roete en vra of hierdie teorie moontlik is en
dan sekere moontlikhede uitwys.
Kom ons maak gebruik van die wet van gemiddeldes en ons vra die vraag wat is
die waarskynlikheid dat die gate as gevolg van natuurlike verwering kon
ontstaan.
Kom ons probeer dit so verduidelik.
As ons 'n dobbelsteen neem en ons gooi dit, is die kans dat dit op 'n ses
sal val 1 uit 6. (6 Kante) Om twee sesse te gooi is die kans 1 uit 36 (6x6).
3 sesse is 1 uit 216 (6x6x6) ens ....ens....ens.
Wat is die kans dat jy twee spoel gate kry wat soos 'n esel spoor lyk?
Miskien het u al so 'n spoor gesien, maar ek woon my lewe lank naby
Oranjerivier, het al baie Augrabies en die potholes by Blyderivier besoek
en ook by die see, maar kan nie onthou dat ek juis so 'n spoor gesien het
nie. Miskien is u geheue beter en sal graag daarvan wil hoor.
Vir hierdie oefening aanvaar ons dat dit waarskynlik is dat daar 1 so 'n gat
vir elke 1000 spoel gate is.
Om dus twee spoel gate te kry wat soos 'n esel spoor lyk, is die
waarskynlikheid 1000 X 1000. M.a.w. 1 uit 'n miljoen.
Die waarskynlikheid om dus 5 sulke gate te kry is 1000 x 1000 x 1000 x 1000
x 1000. M.a.w. 10 tot die mag 15.
Die waarskynlikheid dat hierdie spore almal dieselfde grote, dieselfde
diepte en in die selfde rigting wys en nog binne 'n radius van 3 meter van
mekaar is, maak dit wiskundig onmoontlik.Daar is ongeveer 12 duidelike
"spore"
Indien dit dan wel spoelgate is, wat soos u self kan aflei hoogs
onwaarskynlik is, behoort dit ook as 'n wonder erken te word.
Ons sal graag u kommentaar hieroor wil hoor.
Ons dank aan George Vos dat ons weer sy plaas kon besoek.
Groete
Wollie Burger
Deon Rossouw Skruif:
Hi Wollie,
Die "Eselsklou" afdrukke, is geleë in die kwartsiete, skiste en metalawas
van die Groblershoop Formasie. Die formasie se ouderdom is met die zircon
dateeringsmetode bepaal, wat 'n welbekende en bewysde wetenskaplike metode
is. Volgens die metode het die Groblershoop Formasie omtrent 2 biljoen jaar
gelede gevorm, dus heelwat voor lewe geskep is.
My verstaan, as christen geoloog, is dat Gen 1:1 In die begin het God die
hemel en die aarde geskape. Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en
duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die
waters.
Hierdie gedeelted staan voor die "6 dae skepping" gedeelte en was dus nie
deel daarvan nie. Ons weet ook nie hoe lank die tydperk verloop het tussen
die skep van die hemel en aarde en die "6 dae skepping" nie.
My verklaring dus: die kwartsiet het gevorm, 2 biljoen jaar gelede en in
onlangse tyd het die verwerings-spoelgate gevorm op bestaande nate en krake.
Daar word nie op enige ander plek op die kwartsiet sulke gate gekry nie en
daar is ook geen fossile in die kwartsiet gekry nie.
Enige een is welkom om van my te verskil of kommentaar te lewer.
Groete
Deon Rossouw
Exploration Manager - Northern Cape
Aquila Steel (South Africa) Pty Ltd
Andre Smith antword ook:
Dankie Deon
Die aannames het my baie gepla en pla my steeds. Seker omdat daar geen
wetenskap daaragter is nie. Die wetenskap help my juis om die wonder van God
se skepping soveel 'groter' te maak.
Dit is baie mooi 'spore' op die foto. Stuur die foto's na die paliosooloë
dat dit bestudeer. Stuur die rots na geoloë dat hulle dit bestudeer. Dit is
waar daar begin moet word. Ons hoev nie daaroor te wonder en te debateer, as
ons kan weet nie.
Jammer, ek wil nie geesdrif demp nie, maar ek kan nie anders as om met Deon
saam te stem nie. Ek wil ook almal aanmoedig om so 'n bietjie meer van
geologie en paliosoologie te leer om juis die wonder van God se skepping te
beleef. As Wollie ons honger gemaak het om meer van die skepping te leer is
dit baie goed, maar ons moet daarmee saam die grootheid van die Skepper
'ontdek' is dit die BESTE. Die eerste prys.
Groete
Andre Smith
No comments:
Post a Comment